Simfonie-orkes

Die term orkes kom uit die Grieks ὀορχήστρα (orkes), die naam vir die area voor die verhoog in antieke Griekse teater. Die spasie was gereserveer vir die Griekse koor wat amal dieselfde maskers gedra het en in een stem kommentaar op die Griekse verhoogstuk gelewer het.

Anthony Inglis dirigeer die Melbourne simfonie-orkes

'n Simfonie-orkes is 'n groot versameling van musiekinstrumente. Dit bestaan uit vier hoofgroepe musiekinstrumente: strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente en slaginstrumente.

'n Orkes bestaan uit 'n groep instrumentaliste wat gesamentlik musiek maak. By klassieke orkeste word volgens grootte onderskei tussen die simfonie-, die kamer- en die strykorkes en by die ligtemusiekorkeste tussen die gewilde-, die fanfare- en die jazzorkes en spesiale orkeste met slegs een soort instrument, byvoorbeeld trekklaviere of balalaikas.

Die instrumentale ensemble het sedert die 17de eeu tot 3 verskillende orkeste ontwikkel, naamlik die strykorkes (eerste en tweede viole, altviole, tjello's en kontrabasse), die kamerorkes (klein strykorkes, hout en koperblaasinstrumente, harp en slagwerk) en die simfonie-orkes (volle strykorkes, hout- en koperblaasinstrumente, harp en slagwerk). Monteverdi se opera Orfeo (1607) was een van die eerste werke waarvoor 'n groot instrument-ensemble voorgeskryf en elke instrument se partituur uitgeskryf was.

Meervoudige besettings was egter die uitsondering. Gedurende die 17de eeu het strykorkeste in ensemblemusiek die botoon gevoer. Die eerste meervoudige orkes was die hoforkes van Lodewyk XIV: die sogenaamde Les vingt-quatr violons du roy. Die orkes het in Europa groot roem verwerf en het veral 'n groot invloed op die Duitse musieklewe gehad.

Onontbeerlik in die orkesmusiek van ongeveer 1750 was die orrel of klawesimbel, wat die rol van die basso continuo vertolk het. So 'n orkes, bestaande uit strykers, hobo's, fagotte en 'n continuo-instrument, het in Bach en Händel se tyd die kern van die orkes uitgemaak.

Dikwels het die blasers geen partituur gehad nie en het hulle saam met die strykers gespeel. Om meer kleur aan die ensemble te gee, is daar ook somtyds van blokfluite, dwarsfluite of horings gebruik gemaak. Rameau was die eerste komponis wat in sy operas van egte orkestrale kleureffekte gebruik gemaak het en word dus as die voorloper van die Romantiese instrumentasiekuns beskou. Hy was ook die eerste komponis wat 'n klarinet in die orkes opgeneem het.

Die stilistiese ontwikkeling wat die 18e eeu gekenmerk het, het ook in die orkes nie ongesiens verbygegaan nie. Die basso continuo, en daarmee saam die klawesimbel, het in onbruik geraak. Polifonie het plek gemaak vir homofonie en daardeur ook die funksie van die instrumente verander. Die eerste taak van die houtblasers, wat vroeër selfstandige rolle in die klankgeheel kon vervul, was nou om lang tone te speel om sameklank te bevorder. Mettertyd, soos byvoorbeeld in Mozart se klavierkonserte, het hulle weer selfstandig geword en as 'n groep teenoor die strykers opgetree. Trompette, vergesel van die pouke, het slegs eenvoudige gedeeltes gespeel.

Deur die Mannheimskool is klarinette ook in die orkes opgeneem. Vroeër is die klarinet ook deur die hoboïs gespeel, en daarom is daar in die meeste klassieke werke of 'n hoboparty, of 'n klarinetparty; die twee is selde saam gebruik. Die Mannheimorkes was in sy tyd die beroemdste orkes in Europa en het veral beïndruk met sy geweldige crescendo's. Die konsertmeester (eerste vioolspeler) was hiervoor verantwoordelik en hy het die effek bereik deur speelaanwysings vir al die spelers te maak.

Na 1790 het die besetting van die orkes bestaan uit die strykorkes, twee fluite, hobo's, klarinette, fagotte, horings en uiteindelik ook trompette en pouke. Dikwels was daar ook aanwysings vir 3 trombones, en met die koms van die Turkse styl in die musiek is ook die groot trom, simbale en die driehoek bygevoeg. Beethoven het soms ook die piccolo, die kontrafagot of 'n tweede horingpaar voorgeskryf. Belangrike vernuwings in sowel besetting as die gebruik van die orkes is aan Berlioz te danke.

Die klankkleur is by hom en ander Romantici net so belangrik as die melodie en sameklank, Byna elke instrument kon nou as solis optree. Instrumente wat deur Berlioz ingevoer is, is die tuba, die althobo en die verbeterde harp. Meyerbeer was die eerste komponis wat die kleinpouk en die basklarinet gebruik het. Wagner het die getal koperblasers vermeerder en ook die kontrabas-trombones en die spesiaal ontwerpte Wagner-tuba bygevoeg. Die aantal houtblasers is soms tot 3 of selfs 4 spelers per instrument vermeerder. Om die rede moes die strykers ook aangevul word en so het orkeste met meer as 100 spelers ontstaan. Ook deur die toedoen van Wagner is die huidige opstelling van die orkes as die norm aanvaar, naamlik die strykers in 'n halwe sirkel om die dirigent en daaragter agtereenvolgens die houtblasers, die koperblasers en die slagwerk. Die groter strykersbesetting het ook 'n groter onderverdeling moontlik gemaak, wat 'n verfyning van die klank meegebring het en veral deur die Impressionistiese komponiste benut is.

Na Wagner het die ander komponiste as 't ware met mekaar meegeding oor wie die grootste orkes bymekaar kon kry. Dit het die massabesettinge van Mahler, Richard Strauss en die vroeë Schönberg tot gevolg gehad, In die 20de eeu was daar egter 'n sterk reaksie daarteen, wat veroorsaak is deur artistieke ontwikkeling asook ekonomiese oorweginge. Hernieude belangstelling in die polifonie en melodiese uitdrukking het klein orkeste weer op die voorgrond laat tree.

Nuwe orkesinstrumente wat sedert 1900 op die toneel verskyn het, is allerlei slaginstrumente en elektroniese instrumente soos die Ondes Martenot. In die moderne musiek is daar vandag geen standaardbesetting nie. Die instrumentasie het so 'n belangrike aspek van die komposisie geword dat die besetting van een stuk onherhaalbaar is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search